‘n Hartseer oomblik

Gedagtes: TSWANE
Deur: Johann van Staden
5 Mei 2019

Ek het vanoggend vroeg deur die stad gery, en ‘n hartseer weemoed het deur my gespoel. Wat selfs ‘n paar jaar gelede nog ‘n inherente trots gehad en vertoon het, het ‘hulle’ vernietig en verwoes tot dat daar vandag slegs hier en daar getuienis is van hierdie gewese trotse, pragtige, skoon stad.

Pretoria stad is nie meer nie. Dit wat hulle nou Tswane wil noem, is ‘n stat. ‘n Gemors. ‘n Skaamte. ‘n Stinkende, donker, vuil, versameling van strukture wat nie onderhou word nie, strate wat wemel en wriemel van ondervoede snotneuskinders en oorgewig vrouens in kleurvolle uitrustings en onder geel en rooi en groen en blou sambrele.

Mans wat sonder enige skaamte langs die strate in die publieke oog staan en urineer. Vuil mense sit, lê en loop orals. Prostitusie word openlik, of ligtelik verskuil, goedsmoeds, blatant, brutaal op straathoeke aangebied. Reuse luidsprekers op byna elke hoek wat met onverstaanbare, wysielose klanke kompeteer met soortgelyke geraas wat bulderend uit verbygaande Chinese bussie-voertuie die wêreld ingeblaker word. Plastiese sakkies van Checkers, PnP en ander sakkies sonder handelsmerk, KFC houers, leë Coke botteltjies, slierte koerantpapier, en wie weet wat nog versier die sypaadjies en strate se randstene.

Die nuwe nasionale blom, het ek al iemand hoor sê. Onbekende woorde op straatnaamborde. Sangomas wat met hulle dienste en produkte woeker. Vele gebreekte ruite staar blindoog – miskien selfs hartseer – na jou terwyl jy verby ry.

Verdiepinggeboue met ‘n trotse geskiedenis staan skaam gestroop wagtend op die oomblik om sonder waarskuwing ineen te stort. Grys klere hang orals buite vensters om deur die son skoon en meer stukkend gebrand te word. ‘n Informele besigheidsmodel van struktuurlose straatverkope het ‘n eerstewêreld ekonomie hier kom verjaag, versmoor en vermoor.

Dit lyk nie lekker nie. Dit ruik nie lekker nie. Dit voel nie lekker nie.

Pretoria is dood. Ek dink nie daar is meer lewe soos dit was nie. Ek weet nie of daar nog hoop is nie.

Die kroonjuweel Pretoria het tragies oor die laaste 15 jaar gesterf en verrot en sodoende ‘n trotse geskiedenis van groei en ontwikkeling van meer as 145 jaar tot niet te maak.

Hulle kan Tswane maar verder verwoes. Pretoria is dit nie meer nie.

Op hierdie onbewaakte oomblik was my hart baie seer. Ek onthou ‘n ander Pretoria. Waar ek veilig en opgewonde om stad toe te gaan, in ‘n skoon bus saam met my Ma, netjies aangetrek vir die geleentheid, OK Bazaars toe kon ry. En ‘n vleispasteitjie met sous en ‘chips’ kon eet.

Dis 2019. Byna vier jaar later. Min het verander aan die status quo. Om in sekere strate en dele van die stad te ry voel mens nog meer bedreig, indien moontlik. Meer geboue het verval in erge verwaarlosing, dooie venster-oë in woonstelblokke.

Daar lê plek-plek meer rommel in die strate ; mense gee nie om nie. Koue, starende oë bevrees jou wanneer jy by ‘n werkende verkeerslig tussen die talle bussies stop wat passasiers van wie-weet-waar na wie-weet-waar vervoer.

Shebeens, prostitute, koppelaars hier en daar en oral om jou. Straatverkopers wat diep in jou voertuig inkyk en inventaris neem terwyl hulle allerhande Chinese ware aan jou probeer afsmeer. Jy probeer om nie oogkontak te maak nie maar jy moet ook terselfdertyd die knaap en sy trawante om hom dop hou.

Soms wil jy die skokstok reghou, vir ingeval.

Maar jy kan ook nie anders as om die armoede van vele raak te sien nie. Mammas met ‘n baba of twee in die arm, en wat ook probeer om haar ander twee snotneuspeuters in toom – en veilig te hou.

Jy vermoed dat sy ‘n wesentlik stryd om oorlewing veg, ten spyte van dit wat om haar aan die gang is. Sy is ook maar net ‘n Mamma. Die ou oom met sy padkaartgesig en afbeen wat klankloos vir jou sê dat selfs net een Rand ook genoeg sal wees.

Vlietend dink jy dat dit dalk hy was wat toe hy nog effens jonger was, in jou tuin vir jou gewerk het, dalk vir R 100 of R 200 per dag. Hy kan dit nie meer doen nie. Hy kon ook nie regtig sinvol vir hom met die R 100 voorsiening vir vandag maak nie. Dan kyk jy maar weg, en word jy kwaad vir nog ‘n minibus wat sommer skielik net voor jou stop en die rituele dans van uitklim en inklim uitvoer.

Daar skuifel ‘n ou Ouma slakstadig op haar kierie straataf. Skielik skok dit jou om te sien dis ‘n blanke tannie. Eers daarna dink jy hoekom ; om haar heen staan, sit, lê of straatslaap vele ander ou tannies en ooms ook. Ek sien hulle nie raak nie. Maar eintlik sien ek hulle ook raak. Dan wonder ek tog oor die skuifel-ouma. Waarheen is sy op pad ? Miskien kafee toe om dalk ‘n halwe brood van die gister-rak af te gaan koop ?

Dan ontken ek dit wat ek dink. En ek word maar eerder weer kwaad vir die minibus.

Tswane se hart klop nog steeds. Al is dit nie ‘n manier om te lewe nie, dink ons. Dis nou nog minder Pretoria. Dis Tswane.

En dan is die maklik om terug te ry na die oostelike voorstede. En op te hou wonder oor al die oumas en oupas wat jy nie eintlik raakgesien het nie. En die mammas met hulle snotneuspeuters.

Of is dit regtig ?

 

Alle nuwe blog posts gepubliseer word nou op ons Telegram kanaal geplaas. Sluit aan!

En om nie posts te mis nie sluit HIER aan by ons nuusbrief! (Ons gooi jou nie dood met gemors nie net kwaliteit materiaal.)

En moet natuurlik nie FACEBOOK en TWITTER vergeet nie...

En meer op INSTAGRAM!