Laat jou lig deurbreek!

Opinie:
Deur: Snyman Rijkloff
26 Februarie 2019

Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan die heerlikheid van die Here jou agterhoede wees. Dan sal jy roep en die Here sal antwoord; jy sal skreeu om hulp en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord en jou siel laat uitgaan na die hongerige en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.

Jesaja 58 v8-10

Donker wolke

Donker wolke hang oor Suid Afrika.

Natuurlik kan mens jou oë toe knyp en die donker wolke dan nie sien nie, maar dit neem die duister wat op die horison aan die kom is nie weg nie.

Donker wolke van grond onteiening sonder vergoeding, van plaasmoorde, en gruweldade, van ‘n dreigende vallende ekonomie en verseker die donker wolke van ‘n onseker toekoms in die land.

Meeste Afrikaners is bewus van ‘n bedreiging in die nabye toekoms en so kies ons om die onderwerp eerder te vermy, en nie daaroor te praat nie.

Die wat wel daaroor praat doen baie keer so deur die vinger te wys na die regering en/of vyand maar sonder dat daar enige daadwerklike verskil gemaak word.*

Die probleem met die donker wolke (en ook vir die wat hulle oë toe knyp) is dat met lank genoeg blootstelling, die donker in mens se hart in kruip.

Natuurlik is daar verligting in die kerk saam met goeie geselskap en tydelike verligting in vermaak en ander plekke maar wanneer die algemene konsensus is, dat die son nie baie helder oor die blanke mense in Suid-Afrika skyn nie, dan sien ons die gevolge in ons werk, in ons huise, in ons jong mense, en ook in ons kinders.

Die beginsel

 

Nou om die beginsel te verstaan is nie moeilik nie. Wanneer dit donker is, sit die lig aan! Hoe doen ons dit?

In hierdie wêreld is ons die lig. As jy dit ooit twyfel, vat jou Bybel en lees hom oor en oor, totdat jou lig ook aan kom en jy self te midde die omstandighede die heerlikheid van God weerspieël.

Maar hier is vir ons bietjie praktiese raad. Die teks in Jesaja begin met “Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit…” Vir dit om te geskied moet daar gaan kyk word na wat voor daardie vers staan.

Die Profeet Jesaja praat van om die bande van goddeloosheid los te maak (nie die goddeloosheid van die vyand nie maar van ons self in ons eie lewens,) dat jy jou kos deel met die wat honger is, en beskutting bied aan die wat nie ‘n dak oor hulle koppe het nie.

Meer as dit, dat jy nie jou gesig weg draai van die nood van jou eie vlees en bloed nie.

Ek self verstaan as mens nie noodwendig geroep voel om die man in straat te help nie, maar dit verseker ek jou, daar is genoeg arm blankes in plakkerskampe vir elkeen van ons, om iewers op hoe klein skaal ook al, betrokke te kan raak.

“Ja maar hulle wil nie werk nie” het ek al menigtemaal die argument gehoor.

Jou eie lig kan deurbreek

 

Wel hier is die verassing; Dit is nie vir hulle wat jy dit doen nie. Dit is sodat jou eie lig kan deurbreek en sodat jyself kan skyn in ‘n wêreld waar dit regtig nodig is.

Die beginsel bly vas en die Woord van God is absoluut waar. In hierdie tyd waarin ons lewe is dit meer belangrik as ooit om ons harte te reinig, ons gesindhede reg te kry, en te skyn soos nog nooit tevore nie.

Daar is net te veel Afrikaners wat op ons staat maak, om te skyn en die pad vorentoe te wys.

Hierdie land het jou nodig om te skyn. Elke dag.

Nie vir die vyand nie. Vir jou eie mense.

En moenie dink dat dit vêr van jou af is nie. Die Woord van God is baie naby aan jou en nie moeilik om te doen nie.

Jy sal verbaas wees watse goeie indruk van hoop en krag ons kan maak, mits ons gehoorsaam bly aan ons Vader in die Hemel.

Die Here seën jou en die Here is met jou. Veilig wees en veg die goeie geveg!

 

 

* Die skrywer van hierdie opiniestuk asook die Joernaal Suid-Afrika publikasie het niks teen enige iemand wat vir die Afrikaner Boere op staan nie, en moedig mense eerder aan om op te staan en op te tree, daar waar dit hulle spesifieke gebied is. Dit is die gesindheid waarmee ons dit doen, wat op die ou einde van die dag die werklike verskil maak. Ons eer elke poging wat gemaak word vir die veiligheid en die welstand van ons volk.

Alle nuwe blog posts gepubliseer word nou op ons Telegram kanaal geplaas. Sluit aan!

En om nie posts te mis nie sluit HIER aan by ons nuusbrief! (Ons gooi jou nie dood met gemors nie net kwaliteit materiaal.)

En moet natuurlik nie FACEBOOK en TWITTER vergeet nie...

En meer op INSTAGRAM!