Eerste dinge eerste

Opinie:
Deur: Snyman Rijkloff
26 Februarie 2019

Daar kan vandag so veel planne-van-aksie wees soos mense in die Afrikaner volk, maar as dit nie prakties uitgevoer word nie, beteken dit maar nie veel nie.

Mike Tyson se woorde was “Everyone has a plan until they get punched in the face.”

En dit is hoe baie van ons Afrikaner Boere na meer as twee dekades se demokrasie voel. Ons voel ons is in die gesig geslaan. (As jy nog nie so voel nie besef jy nie wat behels die oorlog, wat reeds op ons plase en munisipale gebiede woed nie.)

Tog kan ons nie ophou beplan nie. Ons kan vir geen oomblik net hande in die lig op gooi, die verlede blameer en sê; “dit is nou maar hoe dit is nie”.

Dit is dan juis daarin dat die krag van idees so noodsaaklik word. Een idee het die vermoë om die wêreld te verander.

 

Die krag van ‘n idee

 

Jesus Christus van Nasaret het met idees van liefde, die grootste organisasie in die wêreld gestig, en dit groei steeds vandag. Gandhi het met ‘n idee van passiwiteit die Britse ryk tot terme gebring. Karl Marx het met ‘n idee die kommunistiese beweging se saad geplant, ‘n beweging wat ons Afrikaners destyds op die grens geveg het en wat ons vandag nog teenstaan.

As die idee sterk genoeg gekommunikeer word, sal die gene wat vaardig is in planne maak, hulle taak doen. Maar as die idee nie daar is nie, of goed genoeg gekommunikeer word nie, sal die wiel nie draai nie, en kan daar ook dan sodoende nie rigting wees nie.

Idees ontstaan net as daar genoeg daaroor gedink word, genoeg daaroor gepraat word, en genoeg momentum geskep word vir mense om in aksie oor te gaan. Gaan kyk maar na alle groot geskiedkundige idees wat ‘n impak op die wêreld gehad het.

 

Om ‘n stem te hê

 

Maar in Suid Afrika het die vyand ‘n baie effektiewe veldtog teen die Afrikaner Boere.

Die vyand het dit reggekry om ons stem stil te maak. Op verskeie vlakke het ons nie meer ‘n stem nie. Ons stem in die parlement is weggeneem. Ons stem in die polisiestasies is weg. Ons stem in die munisipaliteite het verdwyn. En die oomblik wanneer ons ons stem wil gebruik, word ons uitgekryt as die slegste van die slegste, nie net deur die vyand nie maar ook deur ons eie volksgenote.

Deur dit alles saam, met verskeie ander faktore het ons ons eie, nie-opbouende diskoerse, begin glo.

Ons eie diskoerse

 

Ons het self vir ons idees geskep wat teenstrydig is met die oplossing waarna elkeen van ons vandag soek.

Idees soos om polities korrek te wees, om nie kerk en politiek te meng nie, (al is jou buurman op sy plaas dood geskiet,) om nie te veel “met die Bybel onder die arm te loop nie.” (Teen spyte van dat die Woord sê ons elke dag oor die Woord moet praat.)

Ons glo idees soos dat die regering te groot is, en dat ons nie eintlik iets aan ons situasie kan doen behalwe om te kla nie. Ons koop in die idee in, dat Afrikaner Boere nie kan saam staan nie, en hoe meer ons dit vir mekaar sê hoe meer koop ons in daardie geloof in, en hoe meer word dit ‘n realiteit.

Ons koop so baie in hierdie idees in, dat wanneer een enkele persoon van moontlikhede praat, van geloof, van oorwinning, dan slaan ons ore toe, en maak ons die persoon onmiddellik stil.

Dit is waarom ‘n radikale idee op hierdie stadium so belangrik is.

Hoe kom ons by hierdie radikale idee uit?

 

So hoe doen ons dit?

 

Ons gesels. Ons kom by mekaar in klein groepies en ons begin praat oor dit wat saak maak. Ons begin praat oor die dinge waaroor ons nie regtig wil praat nie. Ons begin praat oor hoe dit gekom het dat ons is waar ons is, en wat ons kan doen vir die pad voorentoe.

As God regtig vir ons so lief is, hoekom laat Hy toe dat ‘n heidense nasie oor ons regeer en ons op ‘n daaglikse basis dood maak? Lê die fout dan nie inderdaad by ons nie? As die Woord sê ons moet ons vyande lief hê, doen ons dit? As die Woord sê ons moet vergewe doen ons dit? (Ek weet vandag van mense wat steeds nie die Engelse vir die konsentrasie kampe kan vergewe nie.)

En dan die praktiese dinge.

Hoe kom dit dat daar steeds huishoudings is waar die man nie ‘n vuurwapen het nie en elkeen in die gesin nie geskool en opgelei is in self-verdediging nie? Wat is dit wat keer dat ons hierdie dinge ernstig opneem? En wat kan ons daaraan doen? Hoekom kan ons op ‘n maandelikse basis geld vir Afrikaanse welwillendheidsorganisasies stuur maar wanneer daar gepraat word van ‘n Afrikaner Boere Militêre skool dan frons almal?

Hierdie is al die dinge wat in liefde, in om gee, en in krag bespreek moet word. Alle idees moet gerespekteer word want op hierdie stadium het ons maar min idees wat regtig teen die vyand en teen die probleem op staan.

Die organisasie Defend Europe het met net ses mense begin. Christenskap met dertien mense.

Teen die einde van die tweede-wêreldoorlog was die Tsjeggo-Slowakye regering in ‘n warboel en het hulle meer as 4 850 “nasionale komitees” gestig wat die rol van die munisipaliteite en regering vervul het.

Ons self sal heelwaarskynlik nie nasionale komitees kan stig om die vyand uit die magsposisies uit te dryf nie maar met net ‘n duisend komitees reg oor die land sal ons klaar meer van ‘n stem hê, sal ons klaar deel voel van ‘n Afrikaner identiteit, en sal ons klaar idees verkry oor hoe om die Afrikaner Boer se toekoms te verseker.

Almal hoef nie saam te stem nie. Al wat ons moet doen is om te wys dat ons ernstig is. Dat dit nie meer oor “my” gaan nie maar oor “ons” en dat ons opdaag wanneer hierdie dinge bespreek word, en wanneer daar besluite geneem word.

 

Alle nuwe blog posts gepubliseer word nou op ons Telegram kanaal geplaas. Sluit aan!

En om nie posts te mis nie sluit HIER aan by ons nuusbrief! (Ons gooi jou nie dood met gemors nie net kwaliteit materiaal.)

En moet natuurlik nie FACEBOOK en TWITTER vergeet nie...

En meer op INSTAGRAM!