Die beste land in die wêreld

Opinie:
Deur: Snyman Rijkloff
22 Februarie 2019

Ek luister nou onlangs na ‘n YouTube video waar Amerikaanse oud-generaal James Mukoyama die volgende sê;

“Elke dag is ‘n goeie dag. Ek het my geloof ek het my familie en ek woon in die beste land in die wêreld.”

Hy gebruik in Engels “I live in the finest country in the world” en hy herhaal hierdie woorde as ‘n mantra elke dag van sy lewe.

Wanneer mense hom vra hoe hy so positief kan wees, het hy ‘n baie goeie verduideliking in die video.

Ek dink toe by myself dit gaan moeilik, heelwaarskynlik onmoontlik wees, vir ons om die selfde hier in Suid Afrika te sê. Ons blanke immigrasiesyfers is ‘n getuienis van die feit dat amper elke ander moontlike land denkbaar, beter is as Suid Afrika.

Maar is dit?

Ja, verseker hoor ek die argumente dat statistiek wys dat ons in die vierde gevaarlikste land in die wêreld woon. Verseker het armoede onder die blanke bevolking toegeneem en verseker het boerdery ‘n nuwe wending ingeneem, wat grens aan militêre paraatheid.

Verseker het ons een van die hoogste dood-syfers op ons paaie, (ons is darem nog nie by Libië nie, hulle het meer as dubbel ons dodetal per 100 000 wat padongelukke aanbetref,) en ja ons het ‘n vyand wat besluit het dat sy lewensdoel die uitwissing van die Afrikaner Boere volk moet wees. Ek sal nou nie hier aan velkleur raak nie want ek is vas oortuig dat daar ook ‘n paar blankes is, wat daardie perd van verwoesting ry.

So met bogenoemde en vele meer argumente, hoe op dees aarde kan ons dit ooit oor ons lippe waag om te sê, en elke dag te herhaal, dat elke dag ‘n goeie dag is, dat ons nog ons geloof en familie het, en dat ons in die beste land in die wêreld bly?

Ek hou aan jou voor die volgende twee punte.

Die eerste is die gegewe feit dat ons steeds God se kinders is, dat Hy ons lief het, dat dit nie sy wil is dat ons Afrikaners by die duisende dood gaan nie, en dat Hy ons steeds in sy hand vashou. (As jy laasgenoemde twyfel lees bietjie op oor die Ruanda menseslagting, die Armenië menseslagting, en Stalin wat sy eie mense redelik dieper in die grond in gestuur het as wat vir hulle gemaklik was. Met daardie perspektief klim jy dan van jou ivoortoring af, gaan op jou knieë en sê vir die Here dankie dat jy nog asem haal en die vermoë het om vir geregtigheid te kan veg.)

Nou as daar een ding in die lewe is wat ek gesien het, is dit dat, die wat werklik ‘n verskil in die Koninkryk van God maak, dit nie altyd so maklik het nie. Vat as voorbeeld die eerste Christene, die wat teen die Katolieke in die Middeleeue op gestaan het, en natuurlik ons grootste voorbeeld van alle tye, Jesus Christus.

Maar wat ek wel in al hierdie voorbeelde sien is dat daar oorwinning was, en steeds is. Hulle almal het hierdie uitdagings oorkom. En ek weet dat die Here nie hierdie uitdagings oor hulle pad sou stuur, as Hy nie ook geweet het dat hulle dit kan oorkom nie.

Waarop kom dit dan neer?

Die uitdagings wat ons vandag in Suid Afrika beleef is nie toegelaat om oor enige ander nasie te kom nie, maar juis oor hierdie sterk manne en vroue van Suid-Afrika, juis oor ons die geloof en die krag het, om in oorwinning te kan staan, en hierdie land weer terug te wen vir die Koninkryk.

So moet ons dan nie bly kla moedeloos en negatief raak oor ons land, ons mense, en ons omstandighede nie. Ons moet juis elke dag vir onsself herhaal hoekom ons goeie dae het, en daarin vra, hoe ons al hierdie uitdagings gaan oorkom. (Vir die wat die Bybel nog nie heeltemal deur gelees het nie, om teen die regering te rebelleer is nie die antwoord nie, en om heeldag op Twitter te kla is nog minder opbouend, ongeag die goeie bedoelings.)

Punt nommer twee is die geleentheid.

Ek het persoonlik niks teen die wat geïmmigreer het na verskeie lande toe nie, en ek self het ‘n besonderse voorliefde vir Rusland. Maar die ander nasies waarheen ons vlug het nie noodwendig altyd die geleentheid vir ons om te groei, te versterk, en te veg teen dit wat ons elke dag kelder nie.

‘n Soldaat kan op ‘n klip gaan sit, homself jammer kry en op Facebook murmureer oor hoe goddeloos en onregverdig die vyand is, of hy kan vir die Here dankie sê dat hy nog ‘n dag leef en die Here vra om hom te help om vir nog een dag, met hart en siel te veg vir oorwinning, nie net vir homself nie, maar ook vir sy medemens en sy volk.

Dit gebeur dan telkemale dat in die hitte van die stryd, daar nie veel tyd of geleentheid is vir kla en selfbejammering nie.

Ons generasie het in hierdie tyd waarin ons lewe die geleentheid om sterker manne en vroue te word as ons vriende in Amerika en Europa wie se rykdom, welvaart en gemak nie veel bygedra het, tot hul jonger generasie se karakter en geestelike groei nie.

Nou hier is die kersie op die koek.

Wanneer ons ons denke, ons woorde en ons dade draai van die negatiewe waaraan ons almal skuldig is, na die daaglikse woorde “Elke dag is ‘n goeie dag, ek het my geloof, ek het my familie en ek bly in die beste land in die wêreld,” dan het ons onsself inderdaad bekeer en kan ek nie dink hoe dit dan anders kan wees, as dat die Here ons red van dit wat ons vandag in die gesig staar nie.

Die Here seën jou en die Here is met jou.

En soos altyd moenie vergeet om teen spyte van die slaggate in die pad jou stukkie grond binne en buite jou eiendom mooi en reg te maak nie.

Alle nuwe blog posts gepubliseer word nou op ons Telegram kanaal geplaas. Sluit aan!

En om nie posts te mis nie sluit HIER aan by ons nuusbrief! (Ons gooi jou nie dood met gemors nie net kwaliteit materiaal.)

En moet natuurlik nie FACEBOOK en TWITTER vergeet nie...

En meer op INSTAGRAM!